Wednesday, 02 December 2009 08:01
Salon Music se Brooklyn-teater vervang Performer
Thys Odendaal
Salon Music in Pretoria vier vanjaar sy 15de bestaansjaar en met die aansienlike ontwikkeling die afgelope anderhalf dekade is daar weer ’n belangrike ontwikkeling: die Brooklyn-teater.
Dié teater word op Vrydag 9 April 2010 amptelik geopen.
Die eienaars van Salon Music, Daniël Vos en Willem Vogel, het pas aandele gekoop in die Greenlyn Village-winkelsentrum in Menlopark en is nou besig om die Brooklyn-teater en -konferensiesentrum daar te vestig. Die teater was voorheen The Performer waar meestal variété-programme aangebied is.
“Die teater word in sy geheel omgeskep in ’n stylvolle lokaal wat dien as konsertsaal en teater met ’n orkesbak om by ons beeld te pas,” sê Vogel.
Elegante ouditoriumstyl-sitplekke – “baie soos dié in Unisa se Miriam Makebasaal” – word met ’n helling na agter ingebou. “Daar sal dus geen eet-konserte wees nie. Die interieur neem die elegante styl van ’n klein Europese operahuis aan en die teater sal ook ’n Steinway-konsertvleuel hê,” sê Vogel.
“Salon Music beoog om die Brooklyn hoofsaaklik vir kunsmusiek te gebruik. Ons groot verskeidenheid konsertaanbiedings sal voortaan in die Brooklyn aangebied word.
“Die teater sal ook uitverhuur word aan organisasies vir klassieke konserte, asook gekeurde wêreldmusiek en jazz. Die akoestiek word aangepas dat dit ook geskik sal wees vir toneelopvoerings,” sê Vos.
Salon Music moedig graag die konsertgangers aan om die uitstekende restaurante in die Greenlyn Village-sentrum voor en ná uitvoerings te ondersteun.
“Ons het ook die dienste bekom van Izette Oelofse, fynkok en voormalige gehaltekontroleur vir Woolworths. Sy sluit by die teater aan waar sy verantwoordelik sal wees vir elegante versnaperings in die foyer tydens konserte en konferensies.
“Konsertgangers sal wel ’n glas wyn in die teater kan geniet terwyl aanbiedings plaasvind.”
Die nuwe teater raak nie die Salon Music CD-winkel in Brooklyn Mall regstreeks nie. Die winkel gaan voort met sy werksaamhede en met kaartjieverkope vir Salon-konserte.
“Daar sal mettertyd ’n tweede tak van die CD-winkel in die foyer van die teater gevestig word.”
Weens die opknappingswerk in die Brooklyn-teater sal Salon Music se 2010-konsertseisoen eers in April begin.
Die enigste konsert wat wel vóór die inwyding van die teater gaan plaasvind is Cuban Café. Dit vind plaas in die
Queenspark-atrium van die Brooklyn Mall op Saterdagaand 13 Februarie om Valentynsdag te vier.
Salon Music se drie Kerskonserte vind dié naweek in Pretoria plaas.
Navrae: 012 346 3474.
| < Prev | Next > |
|---|




