Wednesday, 30 November 2011 09:57
2011-11-21 23:00
Righard Linde en Anina Wassermann: tenoor-en-sopraan-kombinasie terug op die verhoog. Foto: Lourens Uitenweerde
Dié tyd van die jaar is Kersfeeskonserte aan die orde in konsertsale en teaters; in parke; en langs mere.
Om dié jaarlikse reëlmaat te verbreek bied Salon Music ’n operette-konsert, wat gewoonlik die vakansiegees in die somermaande weerspieël.
Vanjaar se operette-konsert kom Sondag om 11:00 aan die beurt as die Operetta Gala Concert 2011 in die Brooklyn-teater in Pretoria met die konsep, musiekverwerkings en -aanpassings, asook die regie, behartig deur Willem Vogel, Salon Music se artistieke direkteur.
Dié opvoering word geborg deur die Brooklyn Mall en is ten bate van die Rotariërs se kinderwelsyn. Nog twee opvoerings volg oor twee weke – op 7 en
9 Desember, albei keer om 20:00.
Vir vanjaar se gala is vier soprane genooi – Anina Wassermann, Louette Johnston, Alta van Huyssteen en Ilse Coetsee ; twee tenore – Righard Linde en Jean Frederic; en twee baritons – Douwe Bijkersma en Daniël Verster.
Die pianis Ingrid Bredell is aan die stuur van die Salon Ensemble met Merryl Monard (fluit), Lizet Smith (klarinet), Carin Jansen van Vuuren (viool), Wim van Schalkwyk (tjello) en Armandt Marais (kontrabas).
Ook die Musique Mosaique-operakoor neem aan dié konsert deel.
Arias en duette, sommige met en ander sonder die koor, van operette-komponiste soos Heuberger (Der Opernbal), Lehár (Glimlagland, Die lustige Witwe en Paganini), Kalman (Gräfin Mariza), Strauss (Fledermaus, Nag in Venesië en Zigeunerbaron) en Zeller (Der Vogelhändler) is ingesluit.
The Pirates of Penzance, die Gilbert & Sullivan-operette wat as Savoy Opera bekend staan, is ook op die program en selfs die lied Maytime uit Romberg se musiekspel Sweethearts.
Kaartjies vir Sondag se opvoering kos R150 stuk en vir die daaropvolgende aanbiedings tussen R135 en R170. Bespreek by die teater op die hoek van Thomas Edison- en 13de Straat in Menlopark of op die webtuiste www.brooklyntheatre.co.za of skakel 012 346 3474.
http://www.beeld.com/Vermaak/Nuus/Operette-konserte-vier-vakansiegees-20111121
| < Prev | Next > |
|---|



