Saturday, May 19, 2012
   
Text Size
Login

MOZART OPERA GALA 2012

News - Latest

Nuwe stemme klink goed in die Mozart-galakonsert

2012-01-17 21:41

Ilze Coetzee

Thys Odendaal

Mozart-gala
Brooklyn-teater, Pretoria


Die jaar begin goed in Pretoria wat opera betref met Salon ­Music se hoogs verdienstelike Mozart-galakonsert, getitel ­Queen of the Night.

Vir die operaliefhebber is daar ook ’n nuwigheid: die insluiting van twee belowende sangers aan weerskante van die vokale spektrum – die koloratuur-sopraan Ilze Coetzee en die bas Dirk Venter.

Coetzee beskik oor ’n deurdringende stem, wat in ’n groot teater tot haar voordeel sal strek, ’n akkurate en ratse top-register, en op die koop toe ’n sterk middel-stem wat ook ’n dramatiese gehalte verseker.

Haar O zittre nicht en Der Hölle Rache uit Die Zauberflöte is nommer pas.

Venter se donker, lae register is fabelagtig en die hoër note verbasend suiwer, wat aan hom ’n nuttige omvang gee.

Soos by baie jong basse is die middel­register aanvanklik verdag, maar dit beïnvloed geensins sy goeie vertolking van die Entführung-aria nie.

Mens sal hom graag wil hoor in Osmin se Ha, wie will ich triumphieren.

Die jong mezzo-sopraan ­Kathy Neuland beïndruk met haar ryk stem en oortuigende vertolkings in die uiteenlopende arias uit Le nozze di Figaro en Idomeneo.

Wie sou kon dink die leemte wat Teresa de Wit gelaat het, sou so gou gevul kon word?

Die bariton Douwe Bij­kersma ontwikkel in ’n uitstekende operasanger en is nou gereed vir ’n klompie Mozart-rolle, soos Papageno, later die Figaro-graaf en nóg later Giovanni.

Dat die sopraan Antoinette Olivier ingesluit is, is te verwelkom.

Ook sy het ’n sterk projeksie, en kan met ’n effens sagter aanslag ’n Mi tradi (Giovanni) sing wat in dieselfde mate beïndruk as haar pragtige Porgi amor uit Figaro – asof die stem ná pouse opgewarm en geolie was.

In opera beleef ’n sanger nie in elke aanbieding sy of haar fleurige beste nie – die stem is onvoorspelbaar.

Dit is die indruk wat ’n mens van die tenoor Righard Linde gekry het, met dié dat sy hoë register in Il mio tesoro (Giovanni) minder oortuig het en nie maklik aanklank gevind het nie.

Ingrid Bredell voor die klavier is ook ’n deksels goeie leier.

Die ensemble klink nietemin op die lang duur te eenselwig.

Wat van ’n altviool pleks van die basviool of tjello om die heftige dreunbas-effek in te kort?

Tot Sondag

http://www.beeld.com/Vermaak/Nuus/Nuwe-stemme-klink-goed-in-die-Mozart-galakonsert-20120117

 

mod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_counter
Visitors Counter

Login Form