’n Franse kabaretster in Brooklyn
2012-02-05 21:36
Thys Odendaal

In ons beknopte kabaretkringloop is daar meer as genoeg sangeresse (en soms ook sangers) wat “die mossie van Parys”, die onnabootsbare Edith Piaf, dit probeer nadoen.
As dit dan móét, is dit in die meeste gevalle sekerlik aangewese om ’n Franse chanteuse, ’n sangeres uit Parys, die kabaretstad, te beluister.
Dié uitsonderlike geleentheid in die plaaslike bedryf doen hom dié Sondag om 15:00 in die Brooklyn-teater in Pretoria voor wanneer die jong Paryse kabaretster Camille Favre-
Bulle haar opwagting maak in Echoes of Paris, wat heel gepas op Valentynsdag om 20:00 herhaal word.
Favre-Bulle is deur Salon Music na Pretoria genooi spesiaal vir die Valentynsdag-aanbieding nadat die Suid-Afrikaanse sangeres Jolette Odendaal haar optredes afgestel het.
Benewens kabaret is Favre-Bulle ook bekend om haar optredes in musiekspele in die Franse hoofstad en elders in Europa, soos in die Franse weergawes van Andrew Lloyd Webber se Cats en The Phantom of the Opera.
In dié program sing die aanvallige vrou ’n keur van die onverganklike chansons wat deur Piaf met soveel passie gesing is – onder meer La vie en rose, No Regrets, Hymne à l’amour, Les amants en Autumn Leaves.
Die musikante wat saam met haar optree is die pianis Devereaux van der Hoven, Theo Erasmus (akkordeon) en die basvioolspeler Werner Spies.
Kaartjies vir die Sondagmiddag-vertoning kos tussen R115 en R150, en vir die Valentynsaand-aanbieding deur die bank R325.
Dié pakket sluit in ’n spesiale Valentynsete in Leipoldt’s in die foyer van die teater of op die terras.
Bespreek by die teater op die hoek van Thomas Edison- en 13de Straat in Menlopark, die webwerf www.brooklyntheatre.co.za of skakel 012 460 6033.



